Tuesday, May 26, 2015

TOE tot NOU Fees 2015

Die Tafelberg Erfgoed Versamelaars het ‘n besige tyd gehad vanaf 28 Februarie 2015 tot 28 Maart 2015. 28 Februarie en 14 Maart het die Kleinklub deelgeneem aan kleiner uitstallings by onderskeidelik die TOEKA Fees in Brackenfell en die Durbanville Plaasfees op die Diemersdal Landgoed.



Deelname aan die TOE tot NOU Fees, 28 Maart 2015, was egter die grootste van die uitstallings.  Die fees het baie eerstes vir die Bellville area gebring.  Die optog vanaf AGRICO (Andrag) tot by die Westcliff Vaardigheidskool was ‘n eerste vir die noordelike voorstede, so ook die tipe uitstalling van veteraan trekkers en enjins.  Die veteraan trekkers is by AGRICO afgelaai, want stedelinge het nie gebruik vir ‘n laaibank nie, en het daarvandaan in ‘n optog tot by die skool gery.  Die Volkspelers het op die wa saamgery en reaksie van die mototriste ontlok sover as wat die optog gery het.


Veteraan trekkers, enjins en Klein Erfgoed is uitgestal, demonstrasies is gedoen en twee kanonskote is geskiet!  Aan een kant van die terrein, saam met veteraan trekkers, het Agrico nuwe trekkers uitgestal en veteraan motors het die anderkant van die terrein versier.  Die Land Rover klub het ‘n uitstalling van veteraan LandRovers gehad en die Heritage Group het die voertuie en toerusting van die tweede wêreldoorlog en bosoorlog uitgestal.  Die “startparade” van die veteraan trekkers het lekker reaksie ontlok, verbasing oor die verskillende maniere van “start” het baie kommentaar tot gevolg gehad.  Een persoon het opgelet dat hy nooit geweet het ‘n “motor-ding kan sonder ‘n sleutel aan die gang kom nie”.  Alles eerstes vir Bellville en die noordelike voorstede!

Die uitstal van veteraan toerusting en Klein Erfgoed het verskeie instansies geinspireer en hulle het saamgespan om ‘n unieke uitstalling te doen saam met die Klein Erfgoed.  Die Poskantoor, genialogie en filatelie het pragtig ingeskakel.  Veral die Poskantoor se toerusting het aandag getrek


Die lede van Villiersdorp het saam kom uitstal, so ook Nico Lubbe se smidswinkel en Johan Stemmet met sy moskonfyt kokery.  Schalk Rabie se sweepslanery het lekker reaksie ontlok en Haidee Muller van RSG, wat onderhoude kom voer het met van die uitstallers, se begeerte om sweep te slaan ook aangewakker.   Die Volkspelers het gedans en Hekel Innie Kaap se dames het belangstellendes geleer hekel.  Verder kon die wat bietjie avontuurlik voel, probeer om hulle voertuig te balanseer.

Afgesien van die blootstelling vir die klub en die fondse ingesamel vir die skool, is baie van die stedelinge weer bewus gemaak van die waarde van hulle geskiedenis en die items in hulle besit.


No comments:

Post a Comment