Friday, July 24, 2015

DIE KLEIN TREKKERTJIE MET DIE GROOT HART



Die klein trekkertjie met die groot hart

 Geskryf deur: Erna Claassens


Ek moet erken dat ek nie regtig onthou hoe ek van oorsee af hier gekom het, of waar ek my lewe begin het nie. Wat ek wel weet, is dat ek na baie jare se harde werk op die oewers van die Oranjerivier, half oor die wal en taamlik gehawend, in 1963 op Upington by Spilhaus beland het. Liewe Leser, Moenie 'n fout maak nie, ek is nie sommer net 'n trekker nie! Nee, my naam is McCormick-Deering, my reeksnommer is O12, en ek is 'n 1934- model! Ek is deur die International Harvester Company in die United States of America vervaardig. Nie sommer net gemaak nie. Nee, met soveel spesifikasies word 'n trekker soos ek vervaardig! Ek moet erken dat ek nie regtig onthou hoe ek van oorsee af hier gekom het, of waar ek my lewe begin het nie. Wat ek wél weet, is dat ek ná baie jare se harde werk op die oewers van die Oranjerivier, half oor die wal en taamlik gehawend, in 1963 op Upington by Spilhaus beland het. Onnodig om te sê dat al die kragtige nuwe modelle op my neergesien en al die mense vir my gelag het! Gelukkig het 'n ``mechanic'' my moontlikhede raakgesien en my oorgedoen. Nie om mee te werk nie, maar om -- soos 'n hanswors in 'n sirkus -- mee sports te maak! Ek was oorspronklik grys van kleur, maar om by my nuwe ``image'' te pas, word ek toe bloedrooi geverf! Hoewel ek skaam was vir dié uitspattigheid, het ek tog maar moedig saamgelag. Ek het ook my bes geprobeer as hulle my soos in 'n sirkusarena daar op die groot vloer uitgetoets het. Om die waarheid te sê, het ek nogal al die aandag geniet! Een oggend het die toeskouers mekaar as't ware verdring om my kapperjolle te aanskou. Die groot lokaal was ontruim en die vloer met 'n soort seepskuim bespuit vir my groot vertoning! Hulle het my volspoed laat hardloop, esse laat gooi dat ek in die rondte tol, en sommer sulke ente oor die seepgladde vloer laat gly! Ek het al twaalf my perdekrag uitgehaal! Ek was in my element en die ander kragtige modelle se hovaardigheid het plek gemaak vir jaloesie! Oom Japie Smit en Barry Claassens van Boesmanland was onder die talle toeskouers. My ``performance'' het oom Japie net daar en dan laat besluit om my te koop. Toe ek op die lorrie in Upington se straat staan, het ek nogal belangrik gevoel om die wêreld so vanuit die hoogte te aanskou! Of dit 'n kompliment of 'n belediging was, sal ek nou nie weet nie, maar ek kon duidelik hoor hoe een van die nuuskierige omstanders sê: ``Hy dateer seker uit 10 voor Christus!'' Dit het my min geskeel. 'n Trekker hoort tog nie tussen vier mure nie en ek was gou tuis op die plaas Warmbad-Suid in Boesmanland. Ek kon weer die son sien opkom en ondergaan en die grond onder my wiele voel. Bly om toe nie meer 'n ``sirkuslewe'' te lei nie, het ek elke oomblik geniet om met á l my perdekrag vir oom Japie te werk. Hoofsaaklik het ek my kant gebring om onnutsige melkbosse uit die veld te trek. In die somerhitte was dit nie altyd maklik nie. Die lui sonbesies het in die bosse gesit en skree en, omdat ek nie luiheid kan verdra nie, het ek dan net harder gedreun om nie hul gesanik te hoor nie! Hoewel ek en oom Japie 'n gedugte span was, het ons dit een oggend, tot my ontsteltenis, té ver gevoer. Die ketting was al vas om 'n melkbos en oom Japie stewig in my saal. Hy gee toe taamlik vet en met die bietjie ``sirkusbloed'' wat in my pype oorgebly het, spring ek met só 'n vaart weg, dat ek reg agteroor slaan! Ek het my yskoud geskrik, maar gelukkig was oom Japie ligvoet genoeg om eenkant toe te spring en ongedeerd daarvan af te kom. Ek het ook nie juis seergekry nie, maar my waardigheid het wél 'n ligte knou weg! Terwyl ek toe so onbetaamlik -- wiele in die lug -- daar lê, het oom Japie sommer die geleentheid benut om my van onder af te diens! Die vallery het net my en oom Japie se kameraadskap versterk. By hó m het ek 'n ``trekkerwaardige'' lewe gelei. Maar 'n stukkie van my ``trekkersiel'' het gesterf toe die lang swart wa vir oom Japie kom haal het. Ek het gewonder of die skaduwee onder die ou kameelboom, waar hulle hom gelos het, ook my laaste rusplek sou wees. Op 'n dag kom daar toe 'n klomp mense en ek hoor hulle praat van 'n vandisie. Oom Japie se goed moes glo verkoop word. In dié stadium het ek maar bra verwaarloos daar uitgesien. Ek het my nogal ietwat vererg toe van die vreemde mans teen my wiele kom staan en skop-skop - - glo om my waarde te bepaal. Ook maar lekker dom! My krag sit mos nie in my wiele nie! Dit sit hier diep binne-in my ysterlyf waar die `manufacturers' dit geplant het! Half senuweeagtig, maar vol nuwe verwagtinge, kry die vandisie- besigheid toe ook vir my smaak, en ek voel heel in die tel toe die mense om my begin saamdrom. Selfs 'n trekkertjie soos ék kon aan die twee voorste manne se klere sien hulle kom nie van hier af nie. As ek nie my beste wiel moes voorsit nie, het ek hulle sommer moedswillig 'n bietjie vuilgesmeer sodat die boere kon lag! Die een ou het baie belangrik met sy pen op sy aantekeningboek getik. Die ander ou was glo die afslaer. Te oordeel na die manier waarop hy kort-kort op 'n metaalplaat geslaan het, kon hy, wat my betref, net sowel 'n ``blikslaer'' ook gewees het! Toe hy 'n bod op my vra, het daar net 'n doodse stilte oor die voornemende kopers gedaal. Almal was selfs te bang om 'n lastige brommer wat kom aas soek, weg te jaag. Seker te bang dit word gemisinterpreteer as 'n bod op my! Nogal 'n aardige gevoel as niemand jou meer wil hê nie -- om niks meer werd te wees nie! Die volgende oomblik het iemand uit die agterste geledere keel skoongemaak en vir R50 gebie. Dit was die enigste bod op my! Ek was teleurgesteld. Dit was só min, maar ek het dit gesien as 'n enkelkaartjie vir nuwe avonture op ver paaie! Só word ek toe die volgende dag kom haal. Met genoeg brandstof in my tenkie en water in my gelapte verkoeler durf ek toe die pad aan. Tot my ontsteltenis was dié rit net tot op Witwater, die buurplaas. Ek dog nog dit is net vir 'n ruskansie, maar daar het die dae weke, die weke maande, en die maande jare geword. Ek het gebid om nie langer werkloos te wees nie! Of 'n klein trekkertjie kan aanspraak maak op gebeds-verhoring weet ek nie, maar eendag ry oom Barry Claassens en 'n wildvreemde man by my aan. Oom Barry is baie jonger as ek, maar ek sê ``oom'' uit respek, omdat hy my nie vergeet het nie! Die vreemde man was oom Elie Coetzee, destydse hoof van die Landbou-afdeling by die Hoërskool Martin Oosthuizen op Kakamas. Hy werf toe ou implemente om te vertoon by die ingang van die Landbou- afdeling. Hy was sommer baie in sy skik met my! Willie Claassens, aan wie ek tóé behoort het, was 'n oud-leerling van dié skool en skenk my toe aan sy alma mater. Al sou ek nou net blinkgepoets as 'n model staan en `pose', was dit darem baie beter as om die aarde so nutteloos te beslaan. So kom haal die skool se vragmotor my toe een dag. Dit was 5 November 1981, maar oom Elie was nie daar om my te verwelkom nie. Dit was die donker dag toe sy seun op die grens aan die hand van terroriste gesterf het. Ek is net stilweg, sonder ophef of seremonie, afgelaai. Met dié nuus was ook al die mooi ideale wat hy vir my gekoester het, verpletter. Die ou implementevertoning het toe nooit 'n werklikheid geword nie, en niemand anders het hulle aan my gesteur nie. Selfs toe die Oranjerivier in 1988 sy walle oorstroom, het nie eers één mens daaraan gedink om my te probeer red nie. Ek kon nie kop bo water hou nie, en van al die watersluk het my binnegoed vasgeroes. Net toe ek seker was ek is klaar met die wêreld, het Danie van Rooyen van Kakamas my vir R100 by die skool gekoop. Dit was op 13 Augustus 1996, en die kwitansie het my as rommel geklassifiseer. Nie 'n wafferse beskrywing nie, maar Danie het eindelik weer vir my omgegee! Met liefde en sorg het hy my stukkie vir stukkie uitmekaar gehaal, herstel, en weer aanmekaar gesit. Dit het van my die oudste trekker gemaak wat in Kakamas loop! Hy praat daarvan om my volgende jaar in te skryf vir die veteraan- trekkerskou op Ficksburg. En man, ek wou mos nog altyd graag 'n ver reis aanpak! Rooi is net té verspot en Danie wil my weer in my waardige, oorspronklike grys kleur uitdos vir dié geleentheid. 'n Trekker is seker net so oud as wat hy voel en met dié tweede asem wil ek harte gaan verower! Daar is glo 'n sprokie van Aspoestertjie wat 'n prinses geword het. Vir al wat ek weet, kroon hulle my nog as Trekker van die Jaar! Sien jou daar!   Groetnis,  McCormick-Deering -- model 1934.   McCormick-Deering -- model 1934 het weer nuwe vonk gekry toe Danie van Rooyen van Kakamas hom in Augustus 1996 gekoop het. Danie wil dié trekkertjie weer in sy oorspronklike grys kleur verf en aanstaande jaar op die veteraan-trekkerskou in Ficksburg met hom gaan spog.

7 Desember 2001



Wednesday, July 22, 2015